Jagseisoen. My gedagtes dwaal ‘n hele paar dekades terug. Ek onthou hoe ek as jong meisie verstaan het jagseisoen beteken biltong en droëwors. Dit beteken ook dat een van die slaapkamers in ons huis in ‘n biltong droog kamer sou verander vir ‘n paar maande. My Pa het draad lyne gespan en daar was ‘n staan waaier in die een hoek. Soos die jagseisoen vorder het die lyne vol biltong en droëwors begin hang. Tot ons Staffie, Thor, het sy eie lyn gehad.
Teen die einde van die jagseisoen het my Pa gesê ons moet biltong en droëwors gaan uitdeel aan die onnies by die skool want “mens kan net soveel biltong eet”. As gebore entrepreneur het ek dit gaan verkoop aan die onnies, sonder my Pa se wete. Biltong jag was iets waarmee ek grootgeword het. Soms, wanneer iemand ‘n mooi bok platgetrek het, sou ‘n paar horings sy verskyning maak in die motorhuis. Maar ons was nie trofeë jagters nie.
My eerste kennismaking met trofeë jag was toe ek my man, Chris, ontmoet het. “Lief, ek het so paar trofeës om op te hang”, was sy woorde aan my toe ons saam intrek. Ek onthou die aand na werk toe ek by die voordeur instap en ‘n Zebra hings my op sy agterpote in die gang ingewag het. Daar was ook ‘n prag Koedoe en ‘n klompie ander bokke wat nie die vorige dag in ons woonkamer was nie. Die volgende week het ‘n kameelperd sy verskyning gemaak, wat nogal ‘n konsternasie veroorsaak het om in te pas in ‘n gewone Moreletapark huis se woonkamer.
Die braai area het ‘n paar varkies bygekry. Ek het my voet neergsit toe ek ‘n foto van ‘n oopbek bobbejaan op ‘n stomp gewys word wat “nog by die taxidermi gestoor word.” Daai ding kom nie in my huis nie! Ek het nooit trofeë jag verstaan tot ek my man die storie agter elke trofee teen ons muur hoor vertel het nie. Skielik het ek besef dat elke trofeë met soveel passie gejag is, en vereer word met ‘n plek teen ons muur, eerder as om weens ouderdom, uitgeskop uit sy kudde, met geen meer doel om te dien, te vrek op sy eie in die veld. Ek het begin besef hoeveel geld trofeë jagters inbring.
Geld wat weer ingedelf word om te sorg vir die behoud van ons pragtige wild in hierdie land. Trofeë diere wat deur kliënte gejag word se vleis voer honderde mense in arm gemeenskappe jaarliks. Sonder hierdie vleis sou die diere net in strikke gevang word, sonder enige omgee of dit ‘n jong, oud of dragtige dier is nie. Vandag is dit vir my ‘n eer om die passie en liefde vir jag met my man te deel, waar ons kliënte kan begelei, en soms vir dae lank soek vir daardie perfekte trofeë.
Ons deel die emosie van ongelooflike jag ervarings, om die diere wat geneem word ‘n ereplek te gee. Alles ten bate van die beskerming van ons wonderbaarlike wild. Die bonus vir my, as vrou, is dat daar iets primitief-romanties is, om met ‘n geweer oor my skouer saam met my man deur die Bosveld te loop.