Ons middelste kind, Reuben, is die enigste een van ons drie kinders wat nog altyd belangestel het in jag. Die ander twee sal teiken skiet, maar nie een het nog belangstelling getoon om self ‘n bok te skiet nie. So toe Reuben twee jaar terug sê hy wil vir sy verjaarsdag sy eerste Rooibok skiet, het ons besluit dit is die ideale geleentheid om hom van begin tot einde deur die proses te vat. Eers het ons begin by die begin. Hy sou die 6.5 x 55 Swedish Mauser gebruik, wat super akuraat is, met min skop. Chris het hom laat koels laai – vanaf doppe skoonmaak, tot punte insink. Daarna is ons skietbaan toe om die ladings te toets en na groepering van die skote te kyk. Nadat almal gelukkig was dat die koels reg is, het die voorbereiding begin. Ons het drie maande gehad tot die groot dag, so ons het elke middag vir Reuben vyf skote laat skiet van die skietstokke af. Die voordeel van plaaslewe is dat jy jou eie sandwal kan stoot om teiken op te sit, so selfs wanneer Chris weg was het ek gou tussen terugkom van die skool af met die kinders en met aandete begin, dat Reuben sy vyf skote inkry.
Die maande het vinning gevlieg, en die groot dag het aangebreek. Chris en Reuben is douvoordag uit na een van die wildsplase naby ons wat deur ‘n vriend bestuur word. Die Rooibokke was wakker, soos hulle maar altyd is, en die ure het vinnig gevlieg. Elke slag as hulle op ‘n troppie afkom het hulle laat spaander. So teen 11:00 die oggend het hulle op ‘n vars spoor van rooibokke afgekom. Hulle het stadig maar seker bekruip, tot hulle die ram gewaar het. Chris het vir Reuben die stokke oopgegooi en hom weer mooi beduie waar om die skoot te plaas. Reuben het gesê hy sien die bok mooi en is reg. Die skoot het geknal en hy was goed. Die rooibok het in die lug gespring, so paar tree gedraf en neergeslaan. Na ‘n vinnige wors braai in die veld het hulle met die karkas en horings vir Reuben se trofee teruggery na ons plaas toe. Reuben was pootuit van die ure se bekruip en het al die pad huis toe geslaap.
Terug by die huis het ons die bok in die koelkamer gehang, met die doel om oor ‘n paar dae biltong en droëwors te maak in ons slaghuis (nog ‘n voordeel van plaaslewe). Reuben het die volgende naweek ingespring en vleis ontbeen, help biltong sny, en die res is gemaal vir droëwors. Ons het die wors gestop en in die droogkas gehang. Te danke aan die droë warm weer, kon ons ‘n week later begin proe aan die droëwors en biltong. Die kersie op die koek van die hele verhaal was die dag to die Taxidermie ons laat weet dat die Rooibok horings reg is om op te tel. Reuben was so in sy noppies met sy heel eerste trofee.
Dit is ‘n groot voorreg vir ons om ons kinders op hierdie manier te kan grootmaak. Hulle verstaan werklik wat alles daar ingaan om biltong te kan eet. Die samelewing is so ver verwyderd van die werklikheid. Mense stap by ‘n biltong winkel in, kies uit waarvoor hulle lus is en loop weg met ‘n bruin papiersak sonder enige gedagte aan die wildsboer, die bok, die jagter, of die slagter wat sorg dat hulle iets het om aan te smul terwyl hulle rugby kyk of kuier nie. Ons as jagters weet, elke slag as ons na ‘n trofee teen die muur kyk, dat die maalvleis in die yskas, of die fillets op die vuur, of die droëwors in ons hand, ‘n storie het. ‘n Storie van ure lank soek na die regte bok, en dan wanneer daardie stokke oopgegooi word, die doodste stilte met net jou hart wat in jou ore klop, voor die skoot knal.